Engelse nasionale rugbyspan

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Engeland
Flag of England.svg
Unie Rugbyvoetbalunie
Bynaam(e) Die Rose
Stadion Twickenham
Afrigter(s) Vlag van Australië Eddie Jones
Kaptein(s) Owen Farrell
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Jason Leonard (114)
Meeste toetspunte Jonny Wilkinson (1 179)[1]
Meeste drieë Rory Underwood (49)
Eerste internasionale wedstryd
(ook die wêreld se eerste')
Vlag van Skotland Skotland 1 – 0 Engeland Vlag van Engeland
(27 Maart 1871)
Grootste oorwinning
Vlag van Engeland Engeland 134 – 0 Roemenië Vlag van Roemenië
(17 November 2001)
Grootste nederlaag
Vlag van Australië Australië 76 – 0 Engeland Vlag van Engeland
(6 Junie 1998)
Wêreldbeker
Verskynings 9 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Kampioen in 2003
Unie webwerf
www.englandrugby.com

Die Engelse nasionale rugbyspan is 'n sportspan wat Engeland in internasionale rugby verteenwoordig. Rugby word in Engeland deur die Rugbyvoetbalunie (RFU) geadministreer. Die Engelse rugbyspan is tans (9 November 2019) derde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[2] Engeland neem jaarliks aan die Sesnasies-toernooi deel saam met Frankryk, Ierland, Skotland, Italië en Wallis. Engeland het die kampioenskap reeds 28 keer gewen, insluitend 13 Grand Slams – en het nog tien ander kere die titel gedeel. Engeland ding ook met Skotland om die Calcuttabeker mee — waarvan Skotland die huidige wenner is — as deel van die Sesnasies. Engeland is ook een van die lande wat deel uitmaak van die Britse en Ierse Leeus – spelers wat vir Engeland mag speel mag dus ook gekies word vir die Leeus.

Engelse rugby dateer terug na 1871 toe Skotland Engeland in die eerste internasionale rugbywedstryd op Raeburn Place verslaan het. Engeland het die Tuisuniekampioenskap (Engels: Home Nations Championship, nou die Sesnasies) wat in 1883 begin het, gedomineer. Na die skeuring in rugbyvoetbal in 1895 het Engeland nie weer die kampioenskap gewen tot in 1910 nie. Engeland het die eerste keer teen die Nieu-Seelandse All Blacks in 1905 gespeel, teen Suid-Afrika in 1906, en Australië in 1909. Engeland was een van die spanne wat genooi is om aan die eerste Rugbywêreldbeker in 1987 te speel en het voortgegaan om in die eindstryd van die tweede Rugbywêreldbeker in 1991 te speel waar hulle teen Australië verloor het. Na die span se 2003-Sesnasies Grand Slam het Engeland die Rugbywêreldbeker 2003 gewen deur Australië 20–17 in ekstra tyd te klop, tot dusver die eerste span van die Noordelike Halfrond wat dit kon vermag. Hulle het die eindstryd tydens die Rugbywêreldbeker 2007 as verdedigende kampioen opnuut beklink, maar 6–15 teen Suid-Afrika verloor; albei spanne het tydens die Rugbywêreldbeker 2019 weer in die eindstryd ontmoet, en Engeland is weer deur die Springbokke 12–32 geklop.

Engelse spelers dra tradisioneel wit broeke, vlootblou kouse en wit truie met 'n rooi geborduurde roos daarop. Die span se tuisstadion is Twickenham-stadion waar hulle vir die eerste keer in 1910 gespeel het. Sewe voormalige Engelse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

19de eeu[wysig | wysig bron]

Die skoolgebou van die Public School in Rugby
Engeland voor hulle in 1871 in die eerste internasionale wedstryd teen Skotland in Edinburg gespeel het
Rugbywedstryd tussen Engeland en Skotland, ca. 1893

Die verspreiding van rugby in die eerste helfte van die 19de eeu is teweeggebring deur voormalige leerlinge van Engeland se vele privaatskole, veral Rugby, wat nadat hulle skool verlaat het die sport na universiteite, na Londen, en na die graafskappe uitgebrei het.[3] Engeland se eerste internasionale wedstryd is op Maandag 27 Maart 1871 teen Skotland gespeel.[4] Dit was nie net Engeland se eerste wedstryd teen 'n nader land nie, maar dit was ook die eerste internasionale rugbywedstryd ooit.[4] Skotland het die kragmeting gewen met twee drieë en 'n verdoeling van een van die drieë; 'n 4–1 oorwinning voor 'n skare van 4000 mense by Raeburn Place, Edinburg.[5] 'n Opvolg-internasionale wedstryd het by die Oval in Londen plaasgevind waar Engeland Skotland 8–3 geklop het.[6][7]

In 1875 speel Engeland hulle eerste wedstryd teen Ierland by die Oval en wen hulle 7–0. Die wedstryd was Ierland se eerste toets.[8][9] Engeland het Skotland in 1880 geklop om die eerste wenners van die Calcuttabeker te word.[10][11] Hulle eerste wedstryd teen Wallis is op 19 Februarie 1881 op Richardson's Field in Blackheath gespeel.[11][12] Engeland het hulle grootste oorwinning tot op daardie stadium behaal toe hulle Wallis 30–0 verslaan het en in die proses 13 drieë gedruk het.[12] Die opvolgwedstryd die volgende jaar by St Helens in Swansea was 'n nouer oorwinning; met Engeland wat 10–0 gewen het.[13] Twee jaar later is die eerste tuisunieskampioenskap gehou met Engeland as die eerste wenner.[14]

In 1889 het Engeland hulle eerste wedstryd teen 'n nie-tuisuniespan gespeel toe hulle die New Zealand Natives 7–0 by Rectory Field in Blackheath geklop het.[15][16] In 1890 het Engeland die Tuisuniestrofee met Skotland gedeel.[17]

Begin van die 20ste eeu[wysig | wysig bron]

Engeland teen Nieu-Seelandse oorspronklike All Blacks in 1905; die All Blacks het 15–0 gewen
Die Nieu-Seelandse katjie oorwen die Engelse leeu (spotprent in Punch)

In 1905 het Engeland die eerste keer teen die Nieu-Seelandse All Blacks gespeel. Die All Blacks het vyf drieë gedruk, wat op daardie stadium drie punte getel het, om 15–0 te wen.[18] Die jaar daarna het hulle vir die eerste keer teen Frankryk gespeel en later in dieselfde jaar het hulle die eerste keer teen Suid-Afrika se Springbokke gespeel in 'n wedstryd wat 3-elk gelykop geëindig het.[19] Engeland het vir die eerste keer teen Frankryk gespeel 1907,[20] en teen Australië (die Wallabies) in 1909 toe Engeland met 3–9 oorrompel is.[21]

In 1909 is Twickenham as die RFU se nuwe tuiste geopen wat 'n goue era van Engelse rugby ingelui het. Engeland se eerste internasionale wedstryd op Twickenham het hulle 'n oorwinning oor Wallis besorg en Engeland het voortgegaan om die Internasionale Kampioenskap vir die eerste keer te wen sedert die groot skeuring van 1895 wat gelei het tot die ontstaan van Rugby League. Alhoewel Engeland nie die titel in 1911 kon behou nie, het hulle dit in 1912 gedeel. Vyfnasie Grand Slams is daarna in 1913 en 1914 behaal sowel as in 1921 na die Eerste Wêreldoorlog.

Tussenoorlogsetydperk[wysig | wysig bron]

Skets van 'n wedstryd tussen Engeland en Wallis op Twickenham in 1931

Na die Eerste Wêreldoorlog het die span weer in 1921, 1924 en 1925 Vyfnasie Grand Slams gewen.[22] Dit ondanks 'n nederlaag aan die begin van 1925 teen die All Black-span wat as die Invincibles bekend gestaan het voor 'n skare van 60 000 op Twickenham.[23]

Nadat Engeland in 1928 nog 'n Grand Slam gewen het, het die span in 1931 voor 'n skare van 70 000 teen die Springbokke op Twickenham gespeel. Na die uitskop van Frankryk uit die Vyfnasies as gevolg van beweerde professionalisme in 1930 en dit terug verander is na die Tuisnasiestoernooi,[24] het Engeland voortgegaan om die 1934- en 1937-Tuisnasies met 'n Triple Crown te wen,[25] en in in 1935 hulle eerste oorwinning oor die All Blacks behaal.[26][27]

Naoorlogsetydperk[wysig | wysig bron]

Engeland teen Skotland tydens die Vyfnasies in 1959

Toe die Vyfnasies hervat is na die hertoelating van Frankryk na die Tweede Wêreldoorlog in 1947, het Engeland die kampioenskap met Wallis gedeel. Die span was nie suksesvol in die Vyfnasies aan die begin van die 1950's nie en het slegs een wedstryd in die 1950- en 1951-kampioenskappe gewen.[22] Engeland het vir die eerste keer na Suid-Afrika getoer in 1952 waar hulle 8–3 teen die Springbokke verloor het. Engeland het egter herstel om die 1953-Vyfnasies te wen en dit opgevolg met 'n Grand Slam in 1957, en nog 'n oorwinning in 1958. Engeland het Frankryk se vierkampioenskapwenreeks in 1963 gebreek deur die kampioenskap in die jaar te wen.[22] Na die oorwinning het Engeland na die Suidelike Halfrond getoer waar hulle al drie toetse verloor het: 21–11 en 9–6 teen die All Blacks, en 18–9 teen Australië.[28] Engeland kon nie 'n enkele wedstryd wen in 1966 nie en die beste uitslag wat hulle kon behaal was 'n gelykopuitslag teen Ierland. Die span kon vir 'n dekade lank daarna nie weer 'n kampioenskap wen nie.

1970's en 1980's[wysig | wysig bron]

In die 1970's het Engeland 'n aantal oorwinnings oor spanne in die Suidelike Halfrond behaal insluitend oor Suid-Afrika in 1972, Nieu-Seeland in 1973 en Australië in 1976. Die 1972-Vyfnasies is nie voltooi nie as gevolg van die politieke probleme in Noord-Ierland (en Skotland en Wallis se weiering om hulle wegwedstryde in Ierland te speel). Engeland het ingestem om 'n ekstra wedstryd in Dublin te speel en het 'n staande applous van vyf minute lank ontvang. Nadat die span 18–9 by Lansdowne Road verloor het, het Engeland se kaptein, John Pullin, verklaar, "We might not be very good but at least we turned up."[29]

Engeland het die volgende dekade met 'n Grand Slam oorwinning in die 1980-Vyfnasies begin – hulle eerste in 23 jaar.[30] In die 1983-Vyfnasies kon hulle weer nie 'n enkele wedstryd wen nie en het met die "houtlepeltoekenning" weggestap.[31] In die eerste Rugbywêreldbeker in Nieu-Seeland en Australië, was Engeland saam met Australië, Japan en die VSA in poel A geloot. Engeland het hulle eerste wedstryd 19–6 teen Australië verloor. Hulle het voortgegaan om Japan en die VSA te klop om teen Wallis in die kwarteindstryd te speel, 'n wedstryd wat hulle 16–3 verloor het.[32]

Engeland het die dekade in 1989 afgesluit met oorwinnings oor Roemenië en Fidji.

1990's[wysig | wysig bron]

Engeland teen Argentinië tydens hul Suid-Amerikaanse toer in 1990

Engeland het die nuwe dekade begin met oorwinnings in hulle eerste drie Vyfnasieswedstryde van 1990. Hulle het egter teen Skotland verloor wat Skotland toegelaat het om 'n Grand Slam in te palm. Engeland het die jaar daarna herstel deur hulle eerste Grand Slam sedert 1980 te wen. Engeland het as gasheer vir die Rugbywêreldbeker 1991 opgetree waar hulle in poel A saam met die All Blacks, Italië en die VSA gespeel het. Hoewel hulle teen die All Blacks verloor het, het hulle deurgedring na die kwarteindstryd waar hulle Frankryk 19–10 geklop het. Engeland het Skotland daarna 9–6 verslaan om 'n plek in die eindstryd teen Australië te verseker. Dié stryd het hulle egter 12–6 verloor.[33]

Die volgende jaar het Engeland nog 'n Grand Slam voltooi, die Springbokke geklop en nie een keer in die jaar verloor nie. In die opbou tot die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika het Engeland nog 'n Grand Slam behaal – hulle derde in vyf jaar. In die Wêreldbeker het Engeland Argentinië, Italië en Samoa in poelwedstryde geklop en Australië daarna 25–22 in hulle kwarteindstryd gewen. Engeland se halfeindstryd is egter oorheers deur die All Blacks en Jonah Lomu se vier drieë in die wedstryd wat hulle 45–29 verloor het.[34] Hulle het daarna ook teen Frankryk verloor in die wedstryd om die derde plek, en het toe vierde geëindig.[33]

In 1997 is Clive Woodward aangestel as Engeland se afrigter. Daardie jaar het Engeland op Twickenham teen Nieu-Seeland gelykop gespeel nadat hulle die vorige week 'n swaar nederlaag in Manchester moes verduur. Engeland het in 1998 na Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika getoer. Baie van Engeland se spelers het hulle nie vir die toer beskikbaar gestel nie en die toer het die bynaam die "toer uit die hel" gekry nadat Engeland 'n rekordnederlaag van 76–0 teen die Wallabies gelei het.[35] In 1999 het Skotland se Scott Gibbs in die spanne se laaste Vyfnasieswedstryd, voordat dit die volgende jaar na die Sesnasies verander het, deur Engelse duikslae gesny om in die laaste minuut 'n drie te druk wat Skotland die trofee besorg het.

21ste eeu[wysig | wysig bron]

Die Engelse rugbyspan tydens hulle oorwinningsmars deur die middestad van London, hier op Trafalgarplein afgeneem
Feesvieringe op Trafalgarplein na Engeland se Rugbywêreldbeker 2003-oorwinning
Engeland teen die All Blacks in 2006
Die Poemas tydens hulle November 2006 oorwinning oor Engeland op Twickenham
Engeland teen Skotland tydens die Calcuttabeker in 2007
Die Engelse rugbyspan tydens hulle voorbereidings vir die Rugbywêreldbeker 2007

Engeland het die nuwe millennium afgeskop met die eerste Sesnasiestitel.[36] In 2001 het Ierland Engeland 'n uitgestelde wedstryd 20–14 verslaan om hulle by Lansdowne Road van 'n Grand Slam te ontneem.[37] Alhoewel die 2002-Sesnasiestitel deur Frankryk gewen is het Engeland as troosprys die Triple Crown gewen.[38] In 2002 het Engeland Argentinië in Buenos Aires verslaan en daarna die All Blacks, Australië en Suid-Afrika op Twickenham.[39][40][41][42] In 2003 het Engeland vir die eerste keer sedert 1995 'n Grand Slam gewen gevolg deur oorwinnings oor Australië en die All Blacks in Junie.

In die aanloop tot die Rugbywêreldbeker 2003 was Engeland een van die gunstelinge om die toernooi te wen.[43] Hulle het die eindstryd op 22 November 2003 teen Australië bereik en vir die eerste keer Wêreldkampioen geword na 'n wenskepskop deur Jonny Wilkinson in ekstra tyd vir 'n eindtelling van 20–17. Op 8 Desember het die Engelse span 750 000 ondersteuners gegroet op hulle oorwinningsparade deur Londen oppad na hulle ontmoeting met Koningin Elizabeth II by Buckingham-paleis.[44]

In die 2004-Sesnasies het Engeland teen beide Frankryk en Ierland verloor en derde geëindig.[45] Sir Clive Woodward het op 2 September bedank en Andy Robinson is as Engeland se hoofafrigter aangestel.[46] Robinson se eerste Sesnasiesveldtog in 2005 het uitgeloop op 'n vierde plek vir Engeland,[47] en alhoewel hulle Australië 26–16 geklop het,[48] is die jaar afgesluit met 'n 23–19 nederlaag teen die All Blacks.[49]

Na hulle nederlaag teen Suid-Afrika in die 2006-jaareindtoetse,[50] het Engeland agt van hulle laaste nege toetse verloor — hulle slegste verloorlopie ooit. Afrigter Andy Robinson het hierna bedank en aanvalsafrigter Brian Ashton is in Desember 2006 as hoofafrigter aangestel.[51] Engeland het die 2007-Sesnasies begin met 'n Calcuttabekeroorwinning oor Skotland.[52] Die kampioenskap het ook 'n geskiedkundige wedstryd by Croke Park teen Ierland ingesluit wat Engeland 43–13 verloor het, hulle ergste nederlaag ooit teen Ierland.[53]

Tydens die Rugbywêreldbeker 2007 is Engeland in Poel A met Samoa, Tonga, Suid-Afrika en die VSA geloot. Hulle het vir die kwarteindrondte gekwalifiseer – nadat die Rose 'n verpletterende 36–0-nederlaag teen Suid-Afrika gely het – en Australië 12–10 geklop, om die halfeindstryd teen Frankryk te beslis. Engeland wen 14–9 en vorder tot die eindstryd teen Suid-Afrika, wat hulle 15–6 verloor het. Na die wêreldbeker eindig Engeland twee keer as naaswenner van die Sesnasies op, agter Wallis en Ierland onderskeidelik. Die 2009-Sesnasies het ook gesien hoe die voormalige kaptein Martin Johnson as hoofafrigter aangestel is. Johnson kon egter sy sukses op die veld nie as afrigter herhaal nie en het in November 2011 na 'n mislukte Rugbywêreldbeker 2011 bedank, nadat Engeland in die kwarteindstryd deur Frankryk geklop is en die Engelse span verskeie skandes op en buite die veld beleef het.

Op 29 Maart 2012 is Stuart Lancaster, die voormalige Elite Rugby-direkteur van Leeds Carnegie deur die Rugbyvoetbalunie as Engeland se hoofafrigter aangestel.[54] Lancaster is voorheen vir 'n kort tydperk as hoofafrigter benoem en deur die sittende aanvalafrigters Graham Rowntree en Andy Farrell bygestaan.

Lancaster is in sy eerste veldtog as Engelse afrigter as 'n sukses beskou – gedurende die 2012-Sesnasies het die verdedigende kampioen Engeland die tweede plek behaal nadat hulle 19–12 teen Wallis op Twickenham verloor het, maar die Calcuttabeker teen Skotland 13–6 op Murrayfield suksesvol verdedig het. Engeland het die jaar met 'n hoogtepunt afgesluit, nadat hulle met die 2011-wêreldbekerwenners Nieu-Seeland in November 38–21 afgereken het. Die All Blacks was vir 20 wedstryde onoorwonne, maar is deur Engeland heeltemal gedomineer.[55]

Tydens die 2013-Sesnasies het Engeland weer agter Wallis as naaswenner geëindig nadat hulle die moontlikheid om Grand Slam-wenners vir die eerste keer sedert 2003 te wees misgeloop het, na 'n 30–3-verloor teen Wallis in Cardiff. Engeland kon egter weer Skotland 38–18 op Twickenham klop en sodoende die Calcuttabeker behou. Dit was ook die eerste keer sedert 1974 wat elke span daarin kon slag om minstens drie toernooipunte in te palm (gelykstaande aan een wen en een gelykop of drie gelykop).

Tydens hul 2013-somertoer na Suid-Amerika waar Lancaster 'n eksperimentele span saamgeneem het, het Engeland 'n Suid-Amerikaanse verteenwoordigende XV geklop, voor hul 2–0 wenreeks oor Argentinië; die eerste wegwenreeks teen Argentinië in 32 jaar.[56] Engeland het die Rugbywêreldbeker 2015 aangebied maar is reeds in die poelfase uitgeskakel;[57] hulle was egter nie die eerste gasheer wat op hierdie manier 'n toernooi moes verlaat nie, nadat Wallis op soortgelyke manier tydens die Rugbywêreldbeker 1991 uitgeskop is.

Na die terugslag tydens die Rugbywêreldbeker 2015 is Eddie Jones as nuwe hoofafrigter aangestel en Engeland het toe die Grand Slam tydens die 2016-Sesnasies ingepalm, en die hele 2016 onoorwonne gebly, insluitende 'n suiwer wenreeks oor Australië in Sydney, en die wêreldrekord van 18 agtereenvolgende toetswenne met 'n indrukwekkende 61–21-oorwinning oor Skotland egaliseer en gelyktydig die 2017-Sesnasiestoernooi ingepalm.

Die jaar 2018 het vir Engeland goed afgeskop, nadat hulle Italië 46-15 en 'n taai wedstryd teen Wallis 12-6 in die eerste twee rondtes van die Sesnasies kon wen. Hulle kon egter tot in Juniemaand nie 'n verdere wen aanteken nie, nadat Engeland hul ander wedstryde teen Skotland (13-25), Frankryk (16-22) en die latere Grand Slam-wenners Ierland (15-24) tuis op Twickenham verloor het. 'n Verlore nietoets teen die Britse Barbarians (45-63) het gevolg.[58]

Tydens hul somertoer na Suid-Afrika het Engeland die eerste twee wedstryde 39-42 en 12-23 verloor, nadat hulle in albei wedstryde gedurende die eerste helfte voorgeloop het; hulle kon egter die derde toets 25-10 teen 'n meestal tweede Springbokspan wen. Daardie herfs, na die aansluiting van die voormalige afrigter van beide die All Blacks en die VSA Arende, John Mitchell by die afrigtingspan, kon Engeland die terugwedstryd teen Suid-Afrika met 'n enkele punt 12-11 wen, en het 'n ewe noue wedstryd teen Nieu-Seeland 15-16 verloor, albei in omstrede omstandighede.[59][60] Engeland het die jaar met oorwinnings oor Japan (35-15) en Australië (37-18) afgerond. Hul wen oor Australië het 'n ononderbroke reeks van oorwinnings oor die Wallabies onder die voormalige Australiese afrigter Eddie Jones voortgesit.

Rekords[wysig | wysig bron]

Sesnasierekord[wysig | wysig bron]

Engeland se enigste jaarlikse toernooi is die Sesnasies-toernooi waar hulle teen vyf ander Europese nasies speel: Frankryk, Ierland, Italië, Skotland, en Wallis. Die Sesnasies het begin as die Tuisnasieskampioenskap in 1883 wat Engeland met 'n Triple Crown gewen het. Engeland het die titel tot dusver meer kere as enige ander nasie gewen deur dit 28 keer regstreek te wen en die kampioenskap tien keer te deel. Die span se langste tussenpose in titels was 18 jaar (1892–1910). Gedurende die Sesnasies kompeteer Engeland ook teen Skotland om die Calcuttabeker wat Engeland vir die eerste keer in 1880 gewen het. Hulle speel ook tydens die kompetisie teen Ierland om die Millenniumtrofee. Die Millenniumtrofee is die eerste keer in 1988 gehou toe dit deur Engeland gewen is.

  Vlag van Engeland Engeland Vlag van Frankryk Frankryk Ierse Rugbyvoetbalunie-vlag  Ierland Vlag van Italië Italië Vlag van Skotland Skotland Vlag van Wallis Wallis
Toernooie 123 90 125 20 125 125
Regstreekse oorwinnings
(Gedeelde oorwinnings)
Tuisnasies 5 (4) N.v.t. 4 (4) N.v.t. 10 (3) 7 (4)
Vyfnasies 17 (6) 12 (8) 6 (5) N.v.t. 5 (6) 15 (8)
Sesnasies 6 5 4 0 0 5
Algeheel 28 (10) 17 (8) 14 (9) 0 (0) 15 (9) 27 (12)
Grand Slams
Tuisnasies 0 N.v.t. 0 N.v.t. 0 2
Vyfnasies 11 6 1 N.v.t. 3 6
Sesnasies 2 3 1 0 0 4
Algeheel 13 9 3 0 3 12
Driekrone
Tuisnasies 5 N.v.t. 2 N.v.t. 7 6
Vyfnasies 16 N.v.t. 4 N.v.t. 3 11
Sesnasies 4 N.v.t. 5 N.v.t. 0 4
Algeheel 25 N.v.t. 11 N.v.t. 10 21
Houtlepel
Tuisnasies 11 N.v.t. 15 N.v.t. 8 8
Vyfnasies 14 17 21 N.v.t. 21 12
Sesnasies 0 1 0 14 4 1
Algeheel 25 18 36 14 33 21

Algehele rekord[wysig | wysig bron]

Engeland se plek op die wêreldranglys die afgelope jare

Engeland het teen 9 November 2019 411 van hulle 742 toetswedstryde gewen, 'n wenrekord van 55%.[61] Toe die IRR Wêreldranglys in Oktober 2003 ingevoer is was Engeland bo-aan die lys. Hulle het vlugtig na die tweede plek teruggesak in September van dié jaar voor hulle weer die eerste plek ingeneem het. Engeland het na die tweede plek en daarna na die derde plek teruggesak in Junie 2004. Na die 2005-Sesnasies het hulle na die sesde plek geval waar hulle gebly het tot hulle in Desember van daardie jaar na die vyfde plek geklim het. In 2006 het hulle rang weer geval en teen die einde van 2006 was hulle sewende op die lys. Hulle het in die sewende plek gebly tot Julie 2007.[62]

Engeland se toetsrekord teen alle lande:(Korrek op 8 November 2019)[61]

Teen Gespeel Gewen Verloor Gelykop % Gewen
Vlag van Skotland Skotland 137 75 43 19 54,74
Ierse Rugbyvoetbalunie-vlag  Ierland 135 78 49 8 57,78
Vlag van Wallis Wallis 134 63 59 12 47,01
Vlag van Frankryk Frankryk 105 58 40 7 55,24
Vlag van Australië Australië 51 25 25 1 49,02
Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika 43 15 26 2 34,88
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 42 8 33 1 19,05
Vlag van Italië Italië 26 26 0 0 100
Vlag van Argentinië Argentinië 24 19 4 1 79,17
Vlag van Samoa Samoa 8 8 0 0 100
Vlag van Fidji Fidji 7 7 0 0 100
Vlag van Kanada Kanada 6 6 0 0 100
Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State 6 6 0 0 100
Vlag van Roemenië Roemenië 5 5 0 0 100
Vlag van Tonga Tonga 3 3 0 0 100
Vlag van Georgië Georgië 2 2 0 0 100
Vlag van Japan Japan 2 2 0 0 100
Vlag van Uruguay Uruguay 2 2 0 0 100
Vlag van Nederland Nederland 1 1 0 0 100
Nieu-Seelandse Maori 1 1 0 0 100
Pasifiese Eilanders 1 1 0 0 100
Presidents XV 1 1 0 0 100
Totaal 742 411 280 51 55,39

Wêreldbekerrekord[wysig | wysig bron]

Jaar Uitslag
1987 Kwarteindrondte
1991 Naaswenner
1995 Vierde plek
1999 Kwarteindrondte
2003 Kampioen
2007 Naaswenner
2011 Kwarteindrondte
2015 Poelfase
2019 Naaswenner
2023 N.v.t.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "Jonny Wilkinson OBE England Profile". england-rugby.com. 11 Februarie 2008. Besoek op 15 Februarie 2008.
  2. (en) "World Rugby Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 9 November 2019.
  3. (en) "Origins of Rugby". rugbyfootballhistory.com. Besoek op 16 Februarie 2007.
  4. 4,0 4,1 (en) "Short history of rugby". rfu.com. Besoek op 16 Februarie 2007.
  5. (en) "Historical Rugby Milestones – 1870s". rugbyfootballhistory.com. Besoek op 16 Februarie 2007.
  6. (en) "England vs Scotland > Games Played". rugbydata.com. Besoek op 16 Februarie 2006.
  7. (en) "5 Februarie 1872 – The Oval, London, England". rugbydata.com. Besoek op 16 Februarie 2007.
  8. (en) "15 Februarie 1875 – The Oval, London, England". rugbydata.com. Besoek op 16 Februarie 2007.
  9. (en) "Ireland > Games Played". rugbydata.com. Besoek op 16 Februarie 2007.
  10. (en) "28th Februarie 1880 Whalley Range, Manchester, England". rugbydata.com. Besoek op 19 Februarie 2007.
  11. 11,0 11,1 (en) "Historical Rugby Milestones – 1880s". rugbyfootballhistory.com. Besoek op 19 Februarie 2007.
  12. 12,0 12,1 (en) "19th February 1881 Richardsons Field, Blackheath, England". rugbydata.com. Besoek op 19 Februarie 2007.
  13. (en) "16th December 1882 St Helens, Swansea, Wales". rugbydata.com. Besoek op 19 Februarie 2007.
  14. (en) "Six Nations roll of honour". bbc.co.uk. 19 Januarie 2004. Besoek op 19 Februarie 2007.
  15. (en) "Unsporting behaviour? - the New Zealand Natives' rugby tour of 1888/89". nzhistory.net.nz. Besoek op 16 Februarie 2007.
  16. (en) "Matches played – New Zealand Natives' rugby tour of 1888/89". nzhistory.net.nz. Besoek op 16 Februarie 2007.
  17. (en) "6 Nations History". rugbyfootballhistory.com. Besoek op 2 September 2007.
  18. (en) "6th All Black Test : 79th All Black Game". allblacks.com. Besoek op 6 September 2007.
  19. James Peters, 'n gekleurde speler van Devon is oënskynlik nie vir die Engelse span vir hulle wedstryd teen die Springbokke gekies is nie nadat die Suid-Afrikaners daar vroeër 'n bohaai opgeskop het oor sy insluiting in 'n Devonse span. (en) "Forgotten hero merits a lasting memorial". The Telegraph. 14 Julie 2007. Besoek op 14 September 2007.
  20. (en) "France vs England". 2rugby.com. Besoek op 1 Augustus 2007.
  21. (en) "Historical Rugby Milestones 1900s". rugbyfootballhistory.com. Besoek op 1 Augustus 2007.
  22. 22,0 22,1 22,2 (en) "6 Nations History". rugbyfootballhistory.com. Besoek op 1 Augustus 2007.
  23. (en) "30th All Black Test : 199th All Black Game". allblacks.com. Besoek op 1 Augustus 2007.
  24. (en) "Six Nations history". bbc.co.uk. 28 Januarie 2002. Besoek op 1 Augustus 2007.
  25. 'n Triple Crown word behaal wanneer 'n Tuisnasie al die ander drie Britse Tuisnasies in een toernooi verslaan.
  26. (en) "52nd All Black Test: 311th All Black Game". allblacks.com. Besoek op 19 Februarie 2007.
  27. (en) Polanski (2003), bl. 38–39.
  28. (en) "International Teams > England > Games Played". rugbydata.com. Besoek op 2 Augustus 2007.
  29. (en) Ackford, Paul (12 November 2006). "Breaking the losing streak". telegraph.co.uk. Besoek op 2 Augustus 2007.
  30. (en) "1980 Grand Slam by James Owen". directart.co.uk. Besoek op 2 Augustus 2007.
  31. (en) Mather, Adrian (6 Februarie 2007). "Vandal-hit youth club gets a fresh start in new premises". edinburghnews.scotsman.com. Besoek op 2 Augustus 2007.
  32. (en) "1987 Rugby World Cup Results". worldcupweb.com. Besoek op 2 Augustus 2007.
  33. 33,0 33,1 (en) "1991 Rugby World Cup Results". worldcupweb.com. Besoek op 2 Augustus 2007.
  34. (en) "289th All Black Test : 992nd All Black Game". allblacks.com. Besoek op 6 September 2007.
  35. (en) Hodgetts, Rob (30 Junie 2007). "How do England bounce back?". bbc.co.uk. Besoek op 2 Augustus 2007.
  36. (en) "Brave Scots defeat England". bbc.co.uk. 2 April 2000. Besoek op 17 Maart 2007.
  37. (en) Wilcox, Greg (27 Januarie 2002). "The longest six nations … with a sting in the tail". guardian.co.uk. Besoek op 17 Maart 2007.
  38. (en) Aylwin, Micahael (24 Maart 2002). "Clive is reluctantly happy". guardian.co.uk. Besoek op 17 Maart 2007.
  39. (en) "Argentina beaten by England youngsters". bbc.co.uk. 22 Mei 2002. Besoek op 17 Maart 2007.
  40. (en) berlin, peter (11 November 2002). "England make history as All Blacks plot future". iht.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Oktober 2007. Besoek op 17 Maart 2007.
  41. (en) Majendie, Matt (16 November 2002). "England stun Aussies". bbc.co.uk. Besoek op 18 Maart 2007.
  42. (en) Standley, James (23 November 2002). "England rout sorry Springboks". bbc.co.uk. Besoek op 18 Maart 2007.
  43. (en) Paul, Gregor (26 Augustus 2007). "RWC 2003: The All Blacks peak too early". nzherald.co.nz. Besoek op 2 September 2007.
  44. (en) Anthony, Andrew (9 Desember 2003). "England 750,000, Australia nil". guardian.co.uk. Besoek op 2 September 2007.
  45. (en) Moore, Jonathon (27 Maart 2004). "Six Nations: End of term report". bbc.co.uk. Besoek op 21 Februarie 2007.
  46. (en) "Woodward quits England". bbc.co.uk. 3 September 2004. Besoek op 21 Februarie 2007.
  47. (en) Palmer, Bryn (21 Maart 2005). "Wonderful Wales exude joy of Six". bbc.co.uk. Besoek op 21 Februarie 2007.
  48. (en) "England 26-16 Australia". bbc.co.uk. 12 November 2005. Besoek op 21 Februarie 2007.
  49. (en) Ackford, Paul (19 November 2005). "England's onslaught ends in gallant failure". telegraph.co.uk. Besoek op 21 Februarie 2007.
  50. (en) Standley, James (25 November 2006). "England 14-25 South Africa". bbc.co.uk. Besoek op 22 Februarie 2007.
  51. (en) "Ashton confirmed as new England rugby head coach". taipeitimes.com. 21 Desember 2006. Besoek op 22 Februarie 2007.
  52. (en) Harlow, Phil (3 Februarie 2007). "England 42-20 Scotland". bbc.co.uk. Besoek op 22 Februarie 2007.
  53. (en) "England suffer record defeat". telegraph.co.uk. 24 Februarie 2007. Besoek op 6 September 2007.
  54. (en) Kitson, Robert (29 Maart 2012). "Lancaster appointed England Coach". The Guardian. Theguardian.com. Besoek op 2 Februarie 2014.
  55. (en) New Zealand (3 Desember 2012). "England beat the All Blacks". Londen: Telegraph.co.uk. Besoek op 2 Februarie 2014.
  56. (en) "England defeat Argentina". Bbc.co.uk. 16 Junie 2013. Besoek op 2 Februarie 2014.
  57. (en) Fordyce, Tom (4 Oktober 2015). "England's Rugby World Cup: Where did it all go wrong?". BBC Sport. Besoek op 10 Oktober 2015.
  58. (en) "England v Barbarians: Chris Ashton hat-trick inspires Baa-Baas to victory". BBC. 27 Mei 2018. Besoek op 9 November 2019.
  59. (en) Rees, Paul (3 November 2018). "Owen Farrell's kicks and hits help England overcome South Africa". The Guardian.
  60. (en) Piercy, James (10 November 2018). "England 15-16 New Zealand: rugby union international – as it happened". The Guardian.
  61. 61,0 61,1 (en) "International Rugby Union Statistics – England". ESPNscrum. Besoek op 9 November 2019.
  62. (en) Ranking archives can be found at the IRB website; www.irb.com.

Verdere leesstof[wysig | wysig bron]

  • (en) Bowker, Barry (1978). England Rugby. Cassell. ISBN 978-0-304-30214-7.
  • (en) Collins, Tony (2009). A Social History of English Rugby Union. Routledge. ISBN 978-0-415-47660-7.
  • (en) Farmer, Stuart (2006). The Official England Rugby Miscellany. Vision Sports Publishing Limited. ISBN 978-1-905326-12-9.
  • (en) Morgan, Michael (2002). “Optimizing the structure of elite competitions in professional sport – lessons from Rugby Union”. Managing Leisure 7: 41–60. doi:10.1080/13606710110117023.
  • (en) Palenski, Ron (2003). Century in Black – 100 Years of All Black Test Rugby. Hodder Moa Beckett Publishers Limited. ISBN 978-1-86958-937-0.
  • (en) Tuck, Jason (2003). “The Men in White: Reflections on Rugby Union, the Media and Englishness”. International Review for the Sociology of Sport 38 (2): 177–199. doi:10.1177/1012690203038002003.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]