Samoaanse nasionale rugbyspan

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Samoa
Samoa Rugby.jpg
Unie Samoaanse Rugbyunie
Bynaam(e) Manu Samoa
Embleem die Suiderkruis
Stadion Apiapark, Apia
Kapasiteit 12 000
President Tuilaepa Aiono Sailele Malielegaoi
Afrigter(s) Vlag van Nieu-Seeland Steve Jackson
Kaptein(s) Ofisa Treviranus
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Brian Lima (65)
Meeste toetspunte Tusi Pisi (245)
Meeste drieë Brian Lima (31)
Eerste internasionale wedstryd
Flag of the Samoa Trust Territory.svg Wes-Samoa 0–6 Fidji Vlag van Fidji
(18 Augustus 1924)
Grootste oorwinning
Vlag van Samoa Samoa 115–74 Papoea-Nieu-Guinee Vlag van Papoea-Nieu-Guinee
(11 Julie 2009)
Grootste nederlaag
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 101–14 Samoa Vlag van Samoa
(3 September 2008)
Wêreldbeker
Verskynings 8 (Eerste in 1991)
Beste uitslag Kwarteindrondte in 1991 en 1995
Amptelike webwerf
www.manusamoa.com

Die Samoaanse nasionale rugbyspan (ook bekend as Manu Samoa) is 'n sportspan wat Samoa in internasionale rugby verteenwoordig. Rugby word in Samoa deur die Samoaanse Rugbyunie (SRU) geadministreer. Die Samoaanse rugbyspan is tans (12 November 2019) 15de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[1] Die span neem jaarliks deel aan Wêreldrugby se Stille Oseaan Nasiesbeker teen Japan, Fidji, Kanada, Tonga en die Verenigde State. Samoa was tot in 2009 saam met Fidji en Tonga 'n lid van die Stille Oseaan Eilande Rugbyalliansie (Engels: Pacific Islands Rugby Alliance; PIRA), maar hulle het hulself onttrek.[2]

Samoa is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Tonga en Wallis kan soortgelyke bewerings maak.[3] Die naam Manu Samoa is ter nagedagtenis aan ’n beroemde Samoaanse kryger en hulle speel tradisioneel in wit truie en swart broeke. Die span voer ’n tradisionele krygsdans genaamd siva tau uit voor elke wedstryd. Die Samoaanse Rugbyunie word besit deur die geaffilieerde rugbyunies van Samoa. Sedert 1996 word die Samoaanse nasionale rugbyspan deur Sir Michael Fay, een van Nieu-Seeland se rykste mense, befonds.[4][5]

Rugby is in die vroeë 1920’s na Samoa gebring en die beheerliggaam is kort daarna gevorm.[6] Die eerste internasionale wedstryd is in Augustus 1924 teen Fidji gespeel onder die naam Wes-Samoa. Fidji, Tonga en Samoa speel gereeld teen mekaar in toernooie soos die Pasifiese Drienasies, wat Samoa in die debuutjaar in 1982 gewen het. Samoa was van 1924 tot 1997 bekend as, en het ook aan internasionale rugby deelgeneem onder die naam Wes-Samoa.

Samoa is – ondanks 'n beter prestasie as byvoorbeeld Tonga – nie vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 genooi nie, die enigste toernooi tot dusver wat hulle misgeloop het. Vanaf 1991 het hulle aan elke Rugbywêreldbeker deelgeneem en het in 1991 en 1995 daarin geslaag om tot die kwarteindrondte deur te dring. Sedertdien het Samoa nie meer so goed in die Wêreldbeker gevaar nie.

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Samoa teen Suid-Afrika tydens die Rugbywêreldbeker 2007
Samoa teen Namibië tydens die Rugbywêreldbeker 2011
Wallis teen Samoa tydens die Rugbywêreldbeker 2011

Die Marist Broers het rugby in 1924 na Wes-Samoa gebring en die Wes-Samoaanse Rugbyvoetbalunie is in 1924 gevorm. Op 18 Augustus 1924 het Wes-Samoa hulle eerste internasionale wedstryd teen Fidji in die hoofstad Apia gespeel met die besoekers wat 6–0 gewen het. Die wedstryd is om 7 v.m. gespeel om die Samoane kans te gee om na die tyd te werk en is op ’n veld gespeel wat ’n groot boom op die middellyn gehad het. Die terugkeerwedstryd is met 9–3 deur Samoa gewen om ’n gelykopuitslag vir die reeks te lewer.

In 1954 het Wes-Samoa beide Stille Oseaan-buurlande Fidji en Tonga besoek, maar die span sou nog 20 jaar wag voor ’n toer na Nieu-Seeland onderneem is. Die Samoane het een van die agt wedstryde wat hulle op die toer gespeel het, gewen.

Die tradisionele drienasiesreeks tussen Tonga, Fidji en Wes-Samoa is in 1982 begin met Wes-Samoa wat die eerste toernooi gewen het. Wallis het Wes-Samoa besoek en het die toets in Apia met 32–16 gewen. Die toer het gelei tot ’n terugkeerbesoek aan Wallis wat Wes-Samoa se internasionale droogte gebreek het. Wes-Samoa is egter nie na die eerste Rugbywêreldbeker 1987 genooi nie, die enigste toernooi tot dusver wat hulle misgeloop het.

Die volgende jaar is ’n toer van 14 wedstryde na Europa onderneem voor ’n Wêreldbeker uitklopreeks in Tokio wat aan Wes-Samoa ’n plek in die Rugbywêreldbeker 1991 in Brittanje besorg het. Daar het die span ’n groot impak gehad. Nadat hulle Wallis met ’n oorwinning van 16–13 in Cardiff uit die pad gevee het, Argentinië met 35–12 geklop het, en net-net met 3–9 teen die uiteindelike kampioen Australië in hulle poelwedstryd verloor het, het Wes-Samoa, ’n land met ’n bevolking van slegs 160 000 hulle in die kwarteindstryd teen Skotland op Murrayfield bevind. Die Skotte het egter maklik met 28-6 gewen.

In die volgende twee jaar het die span ’n aantal noemenswaardige oorwinnings behaal. Die mees uitstaande prestasie was in die Sewesformaat waar die land die 1993 Hongkong en 1992 Middlesex Sewes gewen het. Die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika het bewys dat die span inderdaad in die boonste kringe hoort. Die span het weereens die kwarteindstryd gehaal met oorwinnings oor Argentinië en Italië, maar is met 42–14 geklop deur die uiteindelik wenners, die Springbokke. Na die Wêreldbeker het Manu Samoa ’n toer van 13 wedstryde na Engeland en Skotland onderneem waarin hulle met 15–15 gelykop teen Skotland gespeel het en met 9–27 teen Engeland verloor het.

Met rugby wat in 1995 ’n professionele sportsoort geword het, was dit noodsaaklik vir Samoa om ’n nuwe administratiewe struktuur te ontwikkel. Dit is moontlik gemaak deur ’n samevoeging van kragte tussen Fay Richwhite en die Wes-Samoaanse Rugbyunie om Manu Samoa Rugby Beperk te vorm wat nou die span se sake hanteer. Samoa het met onaangetaste eer uit die Rugbywêreldbeker 1999 gestap na ’n skokoorwinning van 38-31 teen die gasheerland Wallis in die poelfase van die toernooi. Die span het weer in die kwarteindstryd verloor, hierdie keer weer teen Skotland.

Samoa het vir die Rugbywêreldbeker 2003 gekwalifiseer nadat hulle naelskraap met 16–17 teen Fidji verloor het toe Earl Va’a ’n strafskop in beseringstyd misgeskop het. Hulle het egter herstel om Tonga tuis en weg te klop en deur wraak te neem op die nederlaag teen Fidji met ’n oorwinning van 22–12 in Nadi. In daardie jaar moes Samoa tevrede wees met ’n derde plek in ’n sterk poel wat Engeland en Suid-Afrika ingesluit het. In een van die wedstryde van die toernooi het hulle vir die meeste van die wedstryd voorgeloop voor hulle teen die uiteindelike wenners, Engeland met 22–35 verloor het.

Samoa het vir die Rugbywêreldbeker 2011 gekwalifiseer deur Papoea-Nieu-Guinee op 18 Julie 2009 met 73–12 in Port Moresby te klop. Hulle het met ’n gemiddeld van 188–17 oor twee wedstryde gewen nadat hulle die vorige week met 115–7 op Apiapark gewen het.[7]

Samoa het hul voorbereiding vir die Rugbywêreldbeker 2011 afgeskop met ’n oorwinning van 32–23 oor Australië wat die tweede posisie op die wêreldranglys beklee het.[8]

Verbintenis met Nieu-Seeland[wysig | wysig bron]

Bryan Williams in 2018
Frank Bunce in 2019

Wes-Samoa se prestasie in die Rugbywêreldbeker 1991 is geïnspireer deur hulle hulpafrigter Bryan Williams, ’n Nieu-Seelandsgebore Samoaan en All Black-held van die 1970’s. Die wêreldbekerspan van 1991 het baie Nieu-Seelandsgebore en -opgeleide spelers ingesluit. Die aansporing hiervoor was Aucklandse stut Peter Fatialofa wat in 1989 die eerste Nieu-Seeland-gebaseerde speler geword het wat besluit het om vir Samoa te speel. Teen die tyd van die 1991 Wêreldbeker het verskeie ander Nieu-Seelandsgebore Samoane soos Pat Lam, Stephen Bachop, Frank Bunce en Apollo Perelini hulle by hom aangesluit. Dit was in die tyd dat spelers van Samoaanse afkoms, die kinders van die massa-migrasie van die 1960’s en 1970’s, begin het om golwe in Nieu-Seelandse rugby te maak. Sommige, soos Michael Jones, is in Nieu-Seeland gebore terwyl ander soos Inga Tuigamala op ’n vroeë ouderdom na Samoa geïmmigreer het. Die aantal Samoaansgebore spelers wat die All Blacks verteenwoordig het, het in die 1990’s toegeneem. Baie van die spelers het in Nieu-Seeland grootgeword en daar skoolgegaan en het hulle rugbyvaardighede in die strawwe Nieu-Seelandse skolekompetise geslyp. Mils Muliaina, Jerry Collins, Isaia Toeava en Casey Laulala is net ’n handvol van die baie Samoaansgebore spelers wat gekies is om Nieu-Seeland te verteenwoordig.

In die afgelope tyd het Nieu-Seelanders van Samoaanse afkoms sleutelspelers vir die All Blackspan geword, insluitend voormalige All Black-kaptein Tana Umaga. In sommige toetswedstryde tydens hulle 2005 Grand Slam-toer van die Tuisnasies het Nieu-Seelandse spanne talle spelers van Samoaanse afkoms ingesluit. Nieu-Seelandsgebore spelers van Samoaanse afkoms het ook weer vir Samoa gespeel, soos Earl Va’a, Pat Lam en Lome Fa’atau.

Die rugbyverhouding tussen Nieu-Seeland en Samoa is ongetwyfeld ’n ingewikkelde aangeleentheid. Noue bande bestaan tussen die twee lande wat vir die eerste maal gevorm is met die aanvangs van die Polinesiese migrasie na Nieu-Seeland in die laaste helfte van die 20ste eeu. Baie spelers wat vir Samoa mag speel het besluit om vir die All Blacks te speel as gevolg van die ooglopende sport en finansiële voordele wat dit vir hulle inhou. As gevolg van bestaande internasionale reëls kan Samoane wat hulle tot Nieu-Seelandse verteenwoordiging verbind het, nie meer vir kleiner nasies soos Samoa speel wanneer hulle nie meer span kry nie.

In die Rugbywêreldbeker 2007 was daar 14 Nieu-Seelandsgebore spelers in die Samoaanse span en vyf Samoaansgebore spelers in die Nieu-Seelandse span.[9] Die enigste span wat meer buitelandsgebore spelers ingesluit het was Italië met 15.[9]

Siva Tau[wysig | wysig bron]

Samoa voer hulle vorm van die Haka uit voor die span se Poel A-wedstryd teen Suid-Afrika by die Rugbywêreldbeker 2007
Samoa voer die Siva Tau uit voor die wedstryd teen Suid-Afrika by die Rugbywêreldbeker 2011

Die Manu Siva Tau is 'n Samoaanse oorlogsdans wat deur Samoa se nasionale spanne voor elke wedstryd opgevoer word. Die Samoaanse nasionale rugbyspan voer die tradisionele Maulu'ulu Moa op hul toere op. Voor die Rugbywêreldbeker 1991 is die Manu-oorlogslied saamgestel, dit is as meer effektief beskou om spelers in sielkundige opsig "op te laai".

"Siva Tau"
Leier: Samoa! Samoa!
Tatou o e tau le taua! Kom ons gaan oorlog toe!
Tau e matua tau! Veg heftig!
Fai ia mafai! Werk om te bereik!
Le Manu! Die Manu!
Team: Sau ia! Kom ons gaan!
Le Manu Samoa e ua malo ona fai o le faiva

Le Manu Samoa e ua malo ona fai o le faiva

Die Manu Samoa, mag u slaag met u missie

Die Manu Samoa, mag u slaag met u missie

Le Manu Samoa lenei ua ou sau Die Manu Samoa hier het ons gekom
Leai se isi Manu oi le atu laulau Daar is geen ander Manu (span) nie
Ua ou sau nei ma le mea atoa Hier kom ek heeltemal voorbereid
O lou malosi ua atoatoa My sterkte is op sy hoogte
Ia e faatafa ma e soso ese Maak pad en beweeg eenkant
Leaga o lenei manu e uiga ese Want die Manu is uniek
Le Manu Samoa Die Manu Samoa
Le Manu Samoa Die Manu Samoa
Le Manu Samoa e o mai I Samoa Die Manu Samoa regeer vanaf Samoa
Le Manu! Die Manu!

Rekords[wysig | wysig bron]

Algehele rekord[wysig | wysig bron]

Samoa se plek op die wêreldranglys die afgelope jare

Samoa het teen 12 November 2019 104 van hulle 240 toetswedstryde gewen, 'n wenrekord van 43,33%.[10]

Samoa se toetsrekord teen alle lande: (Korrek op 12 November 2019)[10]

Teen Gespeel Gewen Verloor Gelykop % Gewen
Vlag van Argentinië Argentinië 4 3 1 0 75
Vlag van Australië Australië 6 1 5 0 16,66
Vlag van België België 1 1 0 0 100
Vlag van Duitsland Duitsland 2 2 0 0 100
Vlag van Engeland Engeland 8 0 8 0 0
Vlag van Fidji Fidji 53 20 30 3 37,74
Vlag van Fidji Fidji XV 3 0 3 0 0
Vlag van Frankryk Frankryk 4 0 4 0 0
Vlag van Georgië Georgië 5 1 3 1 20
Ierse Rugbyvoetbalunie-vlag  Ierland 6 1 5 0 16,67
Vlag van Italië Italië 7 5 2 0 71,42
Vlag van Japan Japan 15 11 4 0 73,33
Vlag van Kanada Kanada 6 6 0 0 100
Vlag van Suid-Korea Korea 1 1 0 0 100
Vlag van Namibië Namibië 2 2 0 0 100
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 7 0 7 0 0
Sjabloon:PNGru 2 2 0 0 100
Vlag van Roemenië Roemenië 2 0 2 0 0
Vlag van Rusland Rusland 1 1 0 0 100
Vlag van Skotland Skotland 11 1 9 1 9,09
Vlag van Spanje Spanje 1 1 0 0 100
Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika 9 0 9 0 0
Vlag van Tonga Tonga 65 34 27 4 51,56
Vlag van Uruguay Uruguay 1 1 0 0 100
Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State 7 5 2 0 71,42
Vlag van Wallis Wallis 10 4 6 0 40
Vlag van Wes-Duitsland Wes-Duitsland 1 1 0 0 100
Totaal 240 104 127 9 43,33

Wêreldbekerrekord[wysig | wysig bron]

Jaar Uitslag
1987 Geen deelname
1991 Kwarteindrondte
1995 Kwarteindrondte
1999 Kwarteindrondte uitspeelwedstryd
2003 Poelfase
2007 Poelfase
2011 Poelfase
2015 Poelfase
2019 Poelfase
2023 N.v.t.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "World Rugby Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 12 November 2019.
  2. (en) We quit: SRU Samoa Observer
  3. (en) TEIVOVO.COM – RUGBY HISTORY IN FIJI, besoek op 6 Oktober 2007
  4. (en) Rattue, Chris (13 Maart 2004). "Michael Fay beplan tweedaagse gesprek oor Pasifika-voorstel". The New Zealand Herald. Besoek op 7 November 2011.
  5. (en) "Samoa se Eerste Minister loof bankier, Sir Michael Fay, vir ondersteuning van Manu Samoa". Radio New Zealand International. 18 April 2004. Besoek op 7 November 2011.
  6. (en) Manu Samoa.net Die webwerf vir ondersteuners van Manu Samoa, Geskiedenis, besoek op 31 Augustus 2007
  7. (en) "Samoa kwalifiseer vir 2011 Wêreldbeker". BBC Sport. 18 Julie 2009. Besoek op 4 Augustus 2009.
  8. (en) Samoa skok Australië met 32–23 oorwinning in Sydney BBC Sport, 17 Julie 2011
  9. 9,0 9,1 (en) "Almal in die buiteland gebore". Planet Rugby. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Oktober 2007. Besoek op 2 Oktober 2007.[dooie skakel]
  10. 10,0 10,1 (en) "International Rugby Union Statistics – Samoa". ESPNscrum. Besoek op 12 November 2019.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]